* this article is written in Afrikaans, and has not been translated.

‘n Wyse filosoof – en daarvan is daar baie in Namaqualand en langs die Weskus – het by geleentheid beweer dat die Goeie Gewer net 3 dinge aan die Weskus geskenk het: diamante, hotnotsvis en goeie somerweer! En by hierdie lysie sal sommiges nog twee wil byvoeg, te wete goeie mense en STRANDFONTEIN.

Strandfontein word deur ‘n bekende reisgids soos volg beskryf: “ Die prentjiemooi dorp is ‘n juweel aan die Weskus”, waarby bygevoeg word dat dit een van die mooiste dorpe in die streek is. Soos die grootste gedeelte van die Weskusgebied is die Strandfonteinomgewing as gevolg van die invloed van die koue Benguellaseestroom baie droog met ‘n gemiddelde rëenval gedurende die winter.

Aan albei kante van Strandfontein lê ‘n ingekeepte, plek-plek gevaarlike kuslyn waar die rots- en grondformasie aansienlik hoër bokant die water is as elders langs die oorwegend lae kuslyn. Die dorp is geleë teen die hange van ‘n natuurlike kom met ‘n wit strand teen treffende rotsformasies en skep die indruk van ‘n amfiteater teen die skuinste bokant die see.

Die algemene geografiese kenmerke is vyfvoudig: droë kliprante en sandveld met yl plantegroete, bestaande hoofsaaklik uit plat, geharde bossies, vygies en vetplante. Maar wat in ‘n goeie reënjaar oortrek is met ‘n verskeidenheid van blomme; imponerende ruwe rotsformasies, waarvan die Oumensklip en die Hel sekerlik die bekendste is; pragtige wit sandstrande, bykans aaneenlopend met laagwater tot by die monding van die Olifantsrivier; die koue Benguellastroom van die Atlantiese Oseaan wat teen die kus aanspoel; en les bes, die fontein op die strand waaraan die plek sy naam te danke het en waarvandaan sowel Strandfontein en Doringbaai deels vir water (betreklik brak) afhanklik is.

Strandfontein is bykans by uitstek ‘n vakansie-oord met ±80 permanente inwoners. Vakansiegangers en Toeriste is dus die lewensaar van die dorp. Dwarsdeur die jaar is hier vakansiegangers wat gelok word deur die aangename klimaat, die gemoedelikheid van die inwoners en aktiwiteite soos kreefuithaal, blommekyk, staproetes en om net lekker langs die see te kuier.

In die jaar 1779 is die plaas Twee Hollebaks Strandfontein geregistreer in die naam van Josua Joubert en 20 jaar later 1798, is die nabyliggende plaas Viswaterfontein en Strandfontein aangeteken. So het Strandfonteinomgewing sy eerste permanente bewoners gekry.

Behalwe vir 3 plase wat Richard Walter Fryer, seun van ‘n Britse Setlaar, in 1845 by Donkinsbaai aangekoop het is geen nuwe plase ongeveer 20jr lank in die Benede-Olifantsrivier geregistreer nie. RW Fryer het inderdaad ‘n baie vermoënde man in hierdie geweste geword.

Intussen het die bevolking van die Strandfonteinomgewing geleidelik toegeneem. So is die plaas Tweehollebakstrandfontein, waarop die vakansie oord vandag gedeeltelik aangelë is, telkemale onderverdeel om so ‘n lewensbestaan vir al hoe meer mense te skep. Teen 1915 was dit reeds verdeel in 7 dele: benewens die oorspronklike plaas, is die plase Strandfontein, Groot Hollebak, Keisers Klip, Aan de Doorn Baai Bijnest Klip en Tent Klip geskep. Talle onververdelings sou later volg. Veral die oorspronklike plaas en die plaas Strandfontein kom by die ontwikkeling van die Strandoord ter sprake.

RC Fryer, seun van Richard Walter Fryer, koop in 1915 ‘n gedeelte van die oorspronklike plaas Strandfontein terug om met sy gedeelte te verenig.

Vanaf die 1920’s het sowel die vakansiegangers as die plaaslike outoriteite al hoe meer onder die indruk gekom van die ware potensiaal van Strandfontein as vakansieoord. Daarom is daarop aangedring dat erwe op Strandfontein uitgemeet en verkoop sou word.

Alhoewel daar op baie ou kaarte ‘n Soetefontein aangeteken is waar die fontein vandag op die sand uitvloei, was die naam van die plaas, soos reeds genoem, Hollebakstrandfontein en in die omgang is daar na die seebadplek verwys as Strandfontein. Omdat daar reeds ander plekke met die naam bestaan het (soos naby Muizenberg), was daar ‘n gevoel dat ‘n ander naam vir die strandoord-in-wording gekies moes word.

Met die veiling van die eerste erwe het die afslaer die naam Curlew Strand, na analogie van die naam van die bekende seevoël voorgestel en die naam is die die kaart aangebring.

Vandag spog Strandfontein met 4 karavaanparke; 2 groepe chalets; ‘n Jeukampsentrum; Kapel en ±920 erwe bewoon en onbewoon. Top gehalte akkommodasie eenhede word ook aan die toeris gebied.

Geskiedenis van Strandfontein – Maritz Broodryk

Widget4-300x300
Widget1-300x300
Widget3-300x300